Dixon Kidz vind tydens oggenddienste plaas
om 08:30 gedurende skoolkwartale

In hierdie gemeente is kinders baie welkom! Prisma Kidz is ons kinderbediening waar elke ouderdomsgroep op hul vlak bedien word. Prisma Kidz vind tydens oggenddienste om 08:30 gedurende skoolkwartale plaas. Gedurende langnaweke en skoolvakansies is daar nie Prisma Kidz nie.

Hier streef ons daarna om kinders te leer hoe om Jesus se hande en voete op aarde te wees, deur middel van lof en aanbidding, opwindende materiaal geskik vir elke ouderdomsgroep, speel en baie pret.

Prisma Kidz bestaan uit 5 bedieninge:

Babas (0-24 maande)

Ons glo dat kinders van alle ouderdomme ‘n plekkie moet hê waar hulle deel van die gemeente kan wees. Selfs al dra hulle nog doek en drink nog net melk. Ons bababediening is gerig op kinders tussen 0-24 maande en vind elke Sondag gedurende skoolkwartale plaas. Ons babakamer is ingerig spesiaal vir hierdie ouderdomsgroep met sagte speelgoed, boekies, ‘n televisie en selfs ‘n bababed. Kinders wat hier ingeskakel het, pas ook makliker aan by die peuter groepie wanneer hulle op 2 jaar daarheen oorskuif. Maak gebruik van hierdie bediening om rustig die erediens by te woon terwyl vrywilligers wat presies weet hoe om ‘n kleinding besig te hou, jou spesiale bondeltjie vertroetel.

 

Kom kuier gerus in die babakamer by die ingang van die hoofgebou aan die parkeerterrein se kant en ontmoet die baba helpers.

Peuters (2-3 jaar)

Die Peuterfase is die intrapslag tot Kinderkerk. Hier kry 2-3 jariges die geleentheid om meer van hulself te leer, met die wete dat God eintlik aan die staanspoor van dinge is. Hier hou ons van leer deur te speel. Ons bak en brou, sing liedjies, speel speletjies en leer so van die Here. Die materiaal wat die groep gebruik, is Paidion Kinderbediening se materiaal wat spesifiek vir klein lyfies geskryf is.

 

Kleuters (4-6 jaar)

Die Kleuters is ‘n baie lekker en energieke groep. By die Kleuterkerk fokus ons daarop om vir die kinders Bybelverhale op interessante maniere te leer. Ons sing saam en doen aktiwiteite om die boodskap vas te lê. Die materiaal wat die kleuters gebruik, is Kleuterkerk van Bybel Media.

Juniors (Graad 1-3) & Seniors (Graad 4-6)

In die Ark word ‘n les in die groot groep aangebied en dan deel die kinders in kleiner groepies vir die vaslegging van die les. Hier word hulle deur liefdevolle mentors bedien wat vrae beantwoord en seker maak dat elke kind die les verstaan. Die materiaal word geskryf in lyn met die erediens. Dit bevat dieselfde oorhoofse tema en ‘n Huisgeloof gedeelte wat ouers en kinders in staat stel om deur die week met mekaar oor die tema te gesels.

DieSel Connect (sal nog aan ‘n naam dink)

As jy ‘n tiener is, tussen graad 7 en 11, dan is DieSel by Rant en Dal Prisma die plek vir jou! DieSel is ons tienerbediening en hier gee ons vir jou genoeg diesel en genoeg woema om te kan leef as ‘n Christen. Ons leer mekaar ken en kry die Here lief terwyl ons baie pret het. 

Sondagaande gebeur hier groot dinge by die gemeente. Vanaf 16:00 kry ons mekeaar in die Ark vir ‘n koffie en popcorn kuier. Ons skop 17:30 af met die Connect Service wat lekker informeel en baie pret is. Dit is ‘n erediens vir oud en jonk waar ons awesome lofprysing doen saam die Ignite band wat bestaan uit jong en baie goeie musikante. 

Direk na die Connect Service begin die DieSel Connect mentorgroepe. Hier kuier jongmense tussen Graad 7 en 11 in hul kleingroepe oor die tema wat pas tydens die preek hanteer is. Die groepe word gelei deur cool mentors wat mal is oor tieners en hulle met baie passie en entoesiasme bedien.

Ouers word aangemoedig om die Connect Service saam met hulle kinders by te woon en na die tyd ‘n heerlike koppie koffie te drink terwyl hulle vir hul kinders wag. Ouers en tieners wat meer inligting benodig kan vir Adelle, ons Jeugwerker, e-pos by  adelle@rantendalprisma.co.za of kontak by 011 665 2017.